
Waarom dra soveel kleintjies deesdae bril?
Hoe moet ek as kleuterskool juffrou weet of ’n kind sukkel om te sien wanneer ons nog nie lees nie?
Wat is die tekens en is dit regtig noodsaaklik om al hierna op te let op kleuterskoolvlak?
Waarvoor moet ek uitkyk?
Wel, daar kan baie redes wees waarom kinders reeds van jongs af bril dra. Die belangrikheid waarna ons vandag wil kyk is waarom jy as kleuterskool juffrou hierna moet oplet en hoe jy moontlik ’n bydra kan lewer tot beter visuele vaardighede.
Watse tekens is daar?
Hy loop konstant in mense en items vas
Hy sukkel met balvaardighede
Hy draai sy kop erg na een kant tydens tafelwerk
Hy bring sy kop baie naby aan die papier tydens skryfwerk of ’n boek
Hy sukkel met visuele persepsie vaardighede bv. legkaartbou, soek van 'n sekere item in boek of in 'n houer, hy sukkel om verskille en ooreenkomste in prente raak te sien, hy sukkel met naby aktiwiteite soos pennetjiesbou.
Al hierdie tekens kan ook moontlik ander oorsake hê, maar wanneer jy twee of meer van hierdie waarneem is dit nodig om die ouers in kennis te stel en ’n oogtoets aan te beveel.

Wat is gladde oogbewegings?
As juffrou is daar nie veel wat jy aan die visuele skerpheid (hoe goed die oog kan sien) kan doen nie, maar deur vroeg op te let na die tekens en die kind na ’n oogkundige te verwys kan ’n wêreld se verandering in die kind se skool en algemene funksionering teweegbring.

Wat jy as juffrou wel kan doen is om die ontwikkeling van oogbewegings aan te moedig. Wat is voldoende oogbewegings? Dit verwys na die kind se vermoë om ’n objek te volg in spesifieke rigtings, op sekere afstande en met ’n sekere mate van kopstabiliteit. Dit hang af van ouderdom tot ouderdom wat die spesifieke vereistes is.
Die uiteinde, naamlik gladde oogbewegings, verwys na die vermoë om ’n objek horisontaal en vertikaal te kan volg met gladde oogbewegings terwyl die kop stil gehou word. Gladde oogbewegings kan min of meer van middel Graad RR verwag word.
Kom ons kyk waarom dit belangrik is dat kinders voldoende oogbewegings het:
1. Op kleuterskoolvlak
1. Op kleuterskoolvlak is die gebruik van die oë noodsaaklik soos reeds genoem vir legkaartbou, vind die verskille, soek die geel blokkie ens. Indien ’n kind nie goed kan skandeer nie, sy oë nie vinnig kan beweeg nie en hy sukkel om te fokus kan dié aktiwiteite vir hom ’n uitdaging wees en mag hy dalk nie vir lang tye hieraan wil deelneem nie. Dit het ’n effek op sy geleentheid vir die ontwikkeling van visuele persepsie vaardighede, wat die fondamentele basis vorm vir lees, skryf en wiskundige vaardighede.

2. Op Skoolvlak
2.1 Lees
Lees is ’n kind se belangrikste vaardigheid op skool. En een van die menigte aspekte wat lees beïnvloed is oogbewegings. Ons gaan nie ons kleuters leer lees nie, maar ons kan hulle optimaal ontwikkel om gereed te wees vir die aanleer van lees wanneer hulle Graad 1 inkom deur die nodige fondamentele vaardighede, waarvan oogbewegings een is, te stimuleer. Gladde oogbewegings stel ’n kind in staat om met spoed te kan lees, om reël vir reël te kan lees en nie woorde of lyne oor te slaan nie. Dit help ook ’n kind dat letters stilstaan en hy goed gefokus kan wees

2.2 Vinnige Oogbewegings
Vinnige oogbewegings is noodsaaklik vir leesspoed, skandering (om iets te soek), om jou plek op ’n bladsy te vind ens. Dit kan dus ’n kind se werkspoed beïnvloed en frustrasie veroorsaak.

2.3 Goeie Konvergensie
Goeie konvergensie (soos om op die bord te kyk en dan weer naby op jou boek te kan fokus) is baie belangrik vir skool omdat dit amper die heeldag gedoen word.
2.4 Stabiele Visuele Veld
Om die kop te kan beweeg afsonderlik van die oë en andersom is noodsaaklik vir ’n stabiele visuele veld, goeie fokus en visuele aandag.
Hier volg net ’n paar algemene oefeninge:
Vir Babas:
Rol ’n groot bal verby die baba van die een kant van die vertrek na die ander kant
Gooi ’n bal stadig op en af sodat hulle dit kan volg
Blaas borrels vir die baba wat hy met sy oë kan probeer volg
Neem ’n objek 30cm weg van die baba en beweeg die objek stadig op en af vyf keer, van links na regs vyf keer
Hang ’n mobiel bo die doek-omruil-stasie
Julle kan met ’n flitslig in ’n donker kamer lig en kyk of die baba die lig volg met sy oë
Jong Kleuters:
Balspel is ’n wonderlike oefening vir oogbewegings
Neem ’n lang stuk lint en maak dansbewegings en moedig hulle aan om vir die beweging van die lint te kyk
Ballon vlugbal is baie pret en oefen die oë
Gee geleentheid vir speletjies soos “Where is Wally?”
Beweeg ’n flitslig op die grond rond en laat hy dit probeer raak trap
Soek speletjies: soek ’n geel pennetjie in die bakkie ens.
Laat almal in ’n donker vertrek lê op hulle rug en ’n flits op die dak volg
Groter Kleuters:
Ballon vlugbal
Swingball
Gly af by ’n glyplank terwyl julle ’n bal vang en gooi
Volg ’n skerp liggie teen die dak of die muur
Laat hulle hul arms reguit uitstrek en hul wysvinger stadig beweeg van links na regs vyf keer en dan op en af vyf keer en dan al in die rondte. Hulle moet heeltyd hulle vinger dophou. Laat hulle ook nou stadig die vinger nader aan hulle neus bring
Teken ’n slap 8 en laat hulle dit met hulle vingers trek en met die ogies volg
Gee vir elkeen ’n bladsy met klomp prentjies rond en bont. Jy noem ’n prentjie en hulle moet op dit druk so gou hulle kan
Vir volledige oogbeweging vereistes en toepaslike oogoefening aktiwiteite skakel gerus in by ons Exito vir skole of ons Exito Tuis vir mammas en babas program.
Exito Stimulasie Program:
Ontwerp deur Mammas wat Arbeidsterapeute
is vir Mammas wat nie is nie!

Marianne Kotze
Marianne Kotzé het in 2011 haar kwalifikasie in Arbeidsterapie (B.Arb) aan die Universiteit van Stellebosch ontvang. Sy het toekennings ontvang aan die einde van haar studies vir die beste akademiese prestasie oor die verloop van 4 jaar, die beste bestuur van ‘n gemeenskapdiensprojek en sy was deel van ‘n groep wat die prys ontvang het vir die beste navorsingsstudie in 2011 . Sy gaan doen haar Gemeenskapsdiens jaar in Groblersdal in 2012. In 2013 begin ‘n privaat praktyk tussen Bela Bela, Modimolle en Mokophong tot einde 2015 waarna sy na Groblersdal verhuis het en tans steeds in privaat praktyk is. In 2014 begin sy as mede eienaar Éxito stimulasie program ontwikkel en is steeds betrokke by die verdere ontwikkeling van die projek. Sy het in 2017 haar spesialisasie in Sensoriese Integrasie voltooi en is nou ‘n geregistreerde ASI terapeut by SAISI. Sy is ‘n dinamiese terapeut met ‘n passie om ‘n verskil te maak in kinders se lewens.

Cecile Niewoudt
Cecile Nieuwoudt het in 2011 haar kwalifikasie in Arbeidsterapie (B. Arb) aan die Universiteit van Stellenbosch ontvang waar sy ook deel was van ‘n groep wat die prys ontvang het vir die beste navorsingsstudie in 2011.Haar Gemeenskapsdiensjaar was voltooi in Bethelehem, Vrystaat, in 2012 waar sy by verskeie klinieke in die omgewing gewerk het. In 2013 begin sy in privaat praktyk wat hoofsaaklik gefokus is op kinderontwikkeling en werk in Vredendal, Clanwilliam en Citrusdal en het intussen ook uitgebrei na Leipoldtville. Saam met Marianne Kotzé begin skryf en ontwikkel hulle in 2014 die Éxito stimulasie program en is steeds aktief betrokke by verdere uitbereidings van die program. Met die uitbreiding van haar kennis en persoonlike vaardighede is sy doelgerig om ‘n verskil te maak in kinders se kwaliteit van lewe.
All rights reserved – ExitoKids